Rolprent

Die rolprent Roundhay Garden Scene, vervaardig in 1888, word beskou as die eerste rolprent.
Pens en Pootjies en ander Suid-Afrikaanse films. Die groot filmspoele vir elke fliek is tipies in tasse gepak om na die volgende teater versend te word

'n Rolprent of film is 'n verhaal wat uitgebeeld word deur 'n reeks vinnig opeenvolgende, stilstaande beelde. Die spoed waarteen die beelde geprojekteer word, laat dit lyk of dit 'n vloeiende, aaneenlopende beweging vorm, gedeeltelik vanweë die nawerking van elke beeld op die netvlies van die kyker se oog.

Rolprente is kulturele kunsvoorwerpe wat deur spesifieke kulture geskep word en daardie kulture weerspieël en ook beïnvloed. Dit word as ’n belangrike kunsvorm beskou, en ook 'n bron van vermaak en metode van opvoeding. Die visuele elemente bied 'n universele manier van kommunikasie. Sommige rolprente is wêreldwyd gewild danksy die gebruik van byskrifte wat die dialoog vertaal, of deur die dialoog geheel en al oor te klank.

Daar word ook na rolprente as "flieks" verwys, afkomstig van die Engelse term flick of the flickers, wat na die flikkerende ligte tydens destydse rolprentvertonings verwys, of "films", weens die feit dat dit voorheen altyd deur middel van fotografiese film vervaardig is (tans is die hele proses digitaal).

Die mens se belangstelling in bewegende afbeeldings het langs die weg van 'n reeks uitvindings werklikheid geword toe die broers Lumière in 1895 die eerste openbare geprojekteerde rolprent vertoon het. Sedertdien het die rolprent op tegniese gebied stap vir stap tot ʼn hoogs gespesialiseerde kuns ontwikkel met hoogs gevorderde tegniese apparaat as basis.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search